Meer as 7 000 mandrax-tablette en sowat drie en ’n half kilogram tik is verlede Donderdag (16 Maart) tydens ’n dwelmklopjag in Strand ontdek.
Lede van die Strand- en metropolisie het vier verdagtes insluitend, drie mans (43, 32 en 38) en ’n 33-jarige vrou in ’n gekombineerde operasie weens die onwettige besit van dwelms in hegtenis geneem.
Al die verdagtes het Maandag (20 Maart) in die Strand-landdroshof verskyn.
Die vroulike verdagte is verlede Donderdag omstreeks 16:30 in ’n kompleks in Chicagostraat vasgetrek.
Volgens AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die vrou met ’n boks begin hardloop toe sy polisiebeamptes sien wat deur ’n informant oor ’n vermeende verdagte met dwelms in haar besit ingelig is.
Die verdagte se boks het 6 446 mandrax-tablette asook tik bevat.
Die optrede was deel van ’n groter operasie wat deur die metropolisie oor ’n tydperk van 24 uur gereël is.
In dié tydperk is die ander verdagtes ook in hegtenis geneem en altesaam 7 000 mandrax-tablette en 2 kg tik is by al die verdagtes aangetref.
’n Manlike verdagte is eers met 200 Mandraxtablette vasgetrek en die verdagte het toe inligting aan die metropolisie verskaf, wat tot die inhegtenisneming van die ander drie verdagtes gelei het.
Die 33-jarige vrou het drie sakkies tik van 100 gram en twee van 400 gram by haar in die boks saam met al die mandrax-tablette gehad.
Die ander twee manlike verdagtes is onderskeidelik met 510 Mandrax-tablette en ’n sak tik van 700 gram betrap. Die tik moet nog deur die polisie geweeg word.